Lees die artikel ook
hiér.
Hierdie artikel het my geweldig gekwel, nie soseer omdat ek klaarblyklik 'geskors' sou word nie, maar omdat die artikel verwys na 'n e-pos wat Breytenbach vir my en net my gestuur het. Hierdie artikel het dit laat lyk asof ek dié e-pos vir Die Burger gegee het. Ek was smoorkwaad want dit het geklink asof ek my vertroulike e-pos van Breyten vir Die Burger gegee het (wat lesers én Breyten die indruk kon gee dat ek sommer net enige e-pos vir enigiemand gee bloot vir die sensasionaliteit daarvan). Dit was egter nie die geval nie. Nadat die betrokke joernalis nie vir my wou se^ hoe sy dit in die hande gekry het nie, het ek vir Breyten gevra of hy dit nie moontlik vir iemand anders gestuur het nie. Turns out hy het:
Beste André-Pierre,
Ek voeg hierby 'n kopie van 'n brief wat ek aan Die Bôgger
gestuur het. Weet nie of hulle dit gaan plaas nie. Maar ek wil ook net persoonlik om verskoning vra dat korrespondensie wat vir jou bedoel was - en ek sou dit aan jou oorlaat wat jy daarmee wil of wou doen - in die koerant beland het. Ek sal wel uitvind wie die 'lek' was. Ek hoop nie dit het jou nog meer in die spervuur gebring of in verleentheid gestel nie.
Groete,
BreytenTo:
dbmening@dieburger.comSent: Wednesday, May 17, 2006 12:49 AM
Subject: lekkasies, vir André-Pierre du Plessis
Beste André-Pierre du Plessis,
Ek skryf sommer kortpad vir jou langs hierdie weg siende DB tog nou tussen ons in die bed geklim het, alhoewel dit, soos jy dalk weet, verreweg nie my geliefkoosde kommunikasiekanaal is nie. Une fois n'est pas coutume.
Om vir jou te sê die 'lek' van ons onlangse korrespondensie is nie jou fout nie. Iemand anders met wie ek gedagtes wissel oor die onverkwiklike kleitrappery het blykbaar 'n joernalis as vriend of vriendin en kon sy lek nie hou nie. So 'n 'vriendskap' is uiteraard te vergelyk met die verhouding tussen die skerpioen en die padda. (Jy ken die verhaal van Skerpioen wat 'n lift oor die rivier gebedel het van Padda en hoog en laag gesweer het hy/sy sal nie steek nie want dit gaan mos om albei se lewens, en toe doen hy/sy dit tog, met die verweer, terwyl hulle versuip: "Ek kon nie anders nie. Dis in my aard.")
Dis my beurt om onvoorwaardelik om verskoning te vra. Toe julle my destyds genader het vir 'n resensie van die Ruktrom se uiters knap beredeneerde en gefundeerde en onweerlegbare kattroekrapsel, wou ek eintlik maar net sê ek is té stomgeslaan om ordentlik te kan reageer. Mens het egter vergeet hoe kielierig die Skellumbosse Here oor hulle hoëboud statutêre gesag is (en nee, ek wil liewers nie rym op 'statutêre' nie, al lê die s-se vlak op die tong), en hoe gebelgd die filosotte hulle opruk - dis nou die bobuike - wanneer hulle ordentlikheid bevraagteken word. Praat van katte en belletjies! Die bedoeling was nie om dit vir jou ongemaklik te maak nie. Sorrie!
En kyk nou hoe baie tyd en energie het ons vermors deur met die dansende apies te baklei omdat die orreldraaier te bang of te geslepe is om self vorentoe te tree! Maar ek sal my nie te veel steur aan hulle reaksies as ek jy is nie. Hulle is so gemaak en so laat staan. En - as ek my dierebare vergelykings mag voortsit - om deur daardie establishment aangeval te word is soos om gebyt te word deur dooie skape.
Terloops, ek is nié die Barnie Barnard wie se verdoemende brief in vandag (16 Maart) se briewekolom geplaas is nie, maar ek haal my kêps af vir sy heldere analise.
Die omies en die anties met die aapstuipe: mens kan eintlik maar net probeer help dat hulle nie hulle tonge insluk nie. Mens moenie spot met siekte nie en onthou, soos die Sonskyn Susters sing: "Dis bitter swaar om 'n weeskind te wees." Genade vir hulle, vir jou, vir ons ammel.
Breyten Neo-Breytenbach