Hoe om kommentaar te los

0 comments

Weens die feit dat hierdie templaat verskil van ander gewone blogs s'n verduidelik ek graag hoe jy kommentaar kan los:

Kliek op die 'O' langs die titel van die inskrywing waarop jy wil kommentaar lewer. Dit sal jou outomaties neem na die veld vir die invul van kommentaar.

Ditto.

En vir die wat wonder: nee, "ressensie" in die prentjie hierbo is nié verkeerd gespel nie aangesien dit die manier is wat Breytenbach dit spel en dus nie verkeerd is nie. Dis juis in aanhalings omdat dit sy woorde is en nie - soos ander dagblaaie - impliseer dat nie nie 'n resensie is nie en daarom in aanhalings geskryf behoort te word. Hierdie is 'n post-moderne era en 'n resensie mag 'n resensie wees al is dit nie 'n resensie nie. Vir meer inligting in dié verband kontak dr P H Foster (alias Ronel de Goede) by telefoonnommer +27 21 808 2174; besoek haar in Kamer 625, 6e Vloer, Lettere Gebou, h/v Merrimanlaan en Ryneveldstraat, Stellenbosch; of stuur haar 'n vonkpos by rf@sun.ac.za.


Die Matie hoofartikel 3 Mei 2006

0 comments


Die titel van my redaksioneel was 'bedreiging van die breyten' omdat ek wou verwys na Breytenbach se heel eerste gepubliseerde (en bekroonde) gedig 'bedreiging van die siekes' in die Eugene Marais-bekroonde digbundel die ysterkoei moet sweet. In dié gedig stel Breyten ons voor aan homself, se^ presies watter tipe mens hy is, en ook dat hy (en ons) as mens tydelik is. 'ons kom en ons gaan is soos water uit die kraan' skryf hy in 'n ander gedig. Met sy Zen-Buddhistiese ondertoon beklemtoon hy die vervloeentheid van lewe en dood, en beskryf in dié gedig hoe sy begrafnis moet wees.

Die kop van my hoofartikel kon dus op twee maniere gelees word: dat Breyten 'siek' is, en dat ons almal dit weet, en dat ons werklik nie hoef om te gee wat hy skryf nie, juis omdat hy buitendien reeds dood is. Soos Roland Barthes tog se^: die outeur is reeds dood. Dit kan ook gelees word as Breyten Breytenbach wat nou 'n bedreiding is vir die US. Either way, dis ook vir interpretasie.

Dié skrywe het aanleiding gegee tot dié voorbladstorie van Die Burger 2 dae later.



Beste Andre-Pierre

Baie dankie vir jou terugvoer. Ek dink dit is die regte ding om te doen deur formeel apologie aan te teken teenoor die Rektor vir die oordeelsfout wat jy begaan het in die plasing van die sogenaamde resensie wat sy persoon en karakter 'n oneer aangedoen het.

Jy moet seblief nou net nie in die volgende slaggat trap wat sake verder kan vererger nie: dit is om die indruk te wek dat jy onder druk van watter aard ookal (veral van binne die US) geplaas is om verskoning aan te teken. As jy wil hê dat die bona fides en eerlikheid van jou apologie wyd aanvaarding moet vind (ook by die Rektor) dink ek dit moet 'n spontane en opregte handeling van jou kant af wees. Ek stel voor dat jy iets in dier voege stel: jy het by nabetragting en deeglike herbesinning oor die plasing van die sogenaamde resensie besef dat dit 'n oordeelsfout was. Dit was nie net beledigend teenoor die Rektor nie, maar dit het ook implikasies vir die handhawing van die goeie naam van die Universiteit. In jou hoedanigheid as redakteur onderskryf jy die letter en gees van Die Matie se gedragskode en na deeglike beredenering, het jy tot die besef gekom dat jy nie genoegsame oorweging aan alle relevante oorwegings verleen het nie -- die goeie naam van die Rektor en Universiteit inkluis. Jy wil daarom jou en die koerant se opregte verskoning aanbied aan die Rektor en die US Raad vir die plasing van die ongewenste resensie van Breyten Breytenbach. Die Matie wil hom ook omomwonde van Breytenbach se uitsprake distansieër.

Ek dink as jy dit op hierdie manier doen, sal jy effektief die skade kan beperk. Eindelik is dit jou keuse en niemand kan vir jou voorsê hoe jy die saak moet hanteer nie. Ek wil jou maar net van goeie raad bedien.


Ek het hierdie brief as 'n ultimatum beskou. Ek het geweier om hierdie woorde te plaas, en eerder "in my eie manier" (so sou Eikestadnuus by later aanhaal) verskoning vra. Ongeag hoe ek dit buitendien sou benader, dit sou voorkom asof ek 'gedwing' is om dit te plaas.


21 April 2006 10:10 PM

0 comments

Dankie vir jou e-pos.

Dit was geensins my bedoeling om aanstoot te gee nie, inteendeel ek wou net alle kante wys. Nadat ek twee ander "resensies" van studente gekry het met ergerlike laster het ek op Breyten s'n besluit wat die minste aanstoot uit die drie (na my oordeel) sou veroorsaak. Ek sou veel eerder die twee studente wou beskerm as om hul sterk woorde in die koerant te publiseer en het daarom eerder Breyten s'n geplaas omdat hy 'n groot en publieke man is en sy eie fights kan veg. Omdat dit sy woorde is het ek gedink ek hoef nie verantwoordelikheid te neem daarvoor nie, sou dit egter 'n ander student se woorde wees sou ek meer verantwoordelik gevoel het. Ek was egter verkeerd want ongeag of dit my woorde is of nie is ek, as redakteur, steeds verantwoordelik vir elke woord in my koerant. Dit het ek nie besef nie.

Groete, André-Pierre



Hallo A-P

Het nie Woensdag kans gekry om DM te lees nie, maar waar skrik ek nie oor daardie een sinnetjie in Breyten se “resensie” nie.

Vryheid van spraak sal ek altyd verdedig. Maar vryheid van spraak is gekwalifiseerd – die Handves vir Menseregte spel dit uit.

Daardie laaste deel van Breyten se neerhalende stukkie (en dis sy goeie reg as hy sy talent daarvoor wil gebruik) is nie alleen lasterlik nie (dis die regstegniese aspek daarvan), maar sommer plein swak smaak van die skrywer.

Jy moes liefs ge-”selfreguleer” het.

Ek hoop jy het al uit jou eie by die gehele rektoraat (want eintlik is dit beledigend teenoor die instelling as geheel) verskoning gemaak, en ook aangedui watter verskoning jy in die volgende DM sal plaas?


ISIS: Aaa, hamburgers ...

0 comments

Andre-Pierre
Ek skryf hierdie nota aan jou uit pure skok en verslaentheid. Myns insiens is Breyten se paragraaf nie 'n resensie nie. Dit het niks met die boek of die saak te make nie. Hy sê immers dat hy nie 'n opinie oor die boek het nie en verval dan in een van die ergste openbare aanvalle op die karakter van die Rektor. Dit is laster van die ergste graad. Ek dink jou joernalistieke oordeel het jou hier tragies in die steek gelaat.


Geel gevaar

0 comments

Na die verskyning van Breyten se resensie het ek een of dalk 2 e-posse gekry van geskokte akademici, maar nie veel daarvan gedink nie ... totdat ek die voorblad van Rapport daardie Sondag sien:


Ek het nie geweet Rapport lees Die Matie nie en die feit dat Breyten se resensie nou aan die hele land verkondig is het my ietwat op my senuwees gemaak aangesien die hele resensie net so in Rapport herhaal is. Na my kennis is dit die eerste keer dat 'n volle 'artikel' uit Die Matie net so in Rapport oorgeplaas is:


Dit sou in die daaropvolgende week aanleiding gee tot briewe van Joan Hambidge en ander:

En hierdie was nog nie eers die begin van die debakel nie ...



So besluit ons by Die Matie toe om verskeie mense te vra om No Lesser Place te resenseer. Hermann Giliomee het vroeer die jaar aangebied om die boek vir ons te resenseer. Ons wou sy opinie uitbalanseer met 'n T-opsionis se opinie. Dus het ons vir prof Anton van Niekerk gevra. So ook twee studente (een met oogmerke vir die T-opsie, een met oogmerke vir die A-opsie) en twee buitestaanders. Die een was 'n besoekende professor van Oxford en die ander ... Breyten. Ons het ook 'n resensie van ds Nico Smit (pa van die Nico wat lead singer van Arbor was) ontvang maar teen dit besluit. Ons het ook o.a. Annie Gagiano en Anton Kannemeyer gevra om die boek te resenseer, maar hulle het die aanbod van die hand gewys.

Die grootste kopseer wat die hele oefening veroorsaak het was die uitleg van die resensies omdat ons net 1 bladsy gehad het vir alles. Breyten was die enigste een wat by die minimum hoeveelheid woorde gestick het, al die ander het die maksimum van 200 woorde (soos ons elkeen gevra het) oorskrei. Dit was dus buiten die uitleg daarvan ook nog moeiliker om die artikels te sny so dat dit steeds sin maak. Dit was dan die resultaat:




Na die verskyning van No Lesser Place het daar talle resensies in koerante verskyn wat dié boek as kontroversieel beskou het weens die feit dat dit volgens sommiges slegs een kant van die taaldebat op Stellenbosch blootle^. Daarom het Hermann Giliomee onlangs 'n boek geskryf juis oor die T-opsie wat later vanjaar ook deur AFRICAN SUN MeDIA uitgegee sal word. Selfs Cornia Pretorius het 'n insiggewende resensie van No Lesser Place vir Die Burger geskryf en 'n opsommende artikel oor die verwikkelinge op Stellenbosch vir Mail & Guardian. Hiér is 'n totale irrelevante foto van my en haar (sy het 'n swart raambril met blonde hare en is net bo my) saam met die CEO van Ebony & Ivory, die redakteur van Mail & Guardian en ander mense tydens Unitech se Studentmedia Symposium vroeer vanjaar:



In dié tyd het die redakteur van Rapport in sy 2 April-hoofartikel gevra hoekom Die Matie spesifiek nie praat oor die taalbeleid nie, en nie hul mening lug nie. Die enigste artikel wat ek al geskryf het oor die taaldebat was in ons termyn se eerste uitgawe op bladsy 3, maar het daarna nie weer die noodsaaklikheid gesien om dit aan te spreek nie (as jy wil kan jy dit hiér gaan soek). Ek het toe besluit om te reageer op Tim du Plessis se hoofartikel. Dit sou die eerste van 'n reeks korrespondensies word tussen my en Tim. Wat ek in hierdie brief skryf is ook so semi-profeties aangesien die US-Raad (wie volgens die kop van my brief die toekoms sal bepaal) uiteindelik my eie toekoms by Die Matie later die maand sou bepaal:


Brink, the book and I

0 comments


Dis miskien nie baie duidelik nie, maar hierdie foto is dalk my claim to fame. (Net jammer ek het nie my maag ingetrek nie.)

Op Maandagaand 6 Maart 2006 (of dan 06.03.06 wat amper klink soos 666) stel prof Chris Brink, rektor en visekanselier van die Universiteit van Stellenbosch, sy Engelse boek oor die Afrikaanse taaldebat bekend op die spogwynlandgoed, Neethlingshof, getiteld No Lesser Place.

Ek was een van 'n handjievol gaste wat genooi is na dié spogfunksie bloot omdat ek redakteur is/was van Die Matie Studentekoerant. Ander gaste het al my hero's op kampus ingesluit o.a. proff Sandra Klopper, Paul Cilliers, Amanda Gouws (nié Goosen nie), Anton van Niekerk, Chris Brink (natuurlik) Leopoldt van Huyssteen en Louise Viljoen. Ek weet nie of hulle almal sulke close vriende is met Brink nie maar almal het mekaar "jy" en "jou" genoem, dalk omdat hulle nie mekaar se voorname onthou nie maar dalk omdat hulle net doelbewus van die uptightness van sulke funksies wou ontslae raak. Ek weet nie. Hoe dit ookal sy dit was lekker om te weet ek ken helfde van die gaste daar bloot omdat hulle vir my of klas gee of omdat ek hulle op ander wyses leer ken het. Dit wat maar net raadslede van die US en hoofsaaklik departementshoofde van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte wat genooi is.

Hoe dit ookal sy, naas hulle was die media (ons) natuurlik ook genooi. Ek en ons fotograaf, Ruan du Plessis (no relation), en die Eikestadnuus se all-in-one meisie, Marli van Wyngaardt. Sy't by die PUK geswot en is nou joernalis/fotograaf/koffiemaker/socialite van Eikestadnuus en sou later 'n onderhoud met my voer oor die hele gedoente. Buiten haar was die boekeredakteur van Die Burger (laat soos gewoonlik) en Elsabe Brits en nog 'n paar fotograwe. Dit was soos regte paparazzi. Die Burger se verslaggewing oor die event was rather dull. Ek het dit so bietjie beter en korter probeer stel: (kliek op die artikel om dit te vergroot)



Maar die beste van alles was die foto bo-aan hierdie posting. Toe ek prof Brink vra vir 'n foto van hom en die boek sê hy ek moet langs hom staan. So hierdie is heelwaarskynlik my enigste foto saam met die man wat die meeste hits op Google.co.za gekry het in 2005; die "vyand van Afrikaans" is (so sê Die Burger) en die man wat ek in Helsinki vir die eerste keer ontmoet het oor 'n glas vino rosso: meneer Chris Brink (wat, by the way, sy eie domain name het: chrisbrink.com).

Nog 'n snaakse ding was dat Die Burger se foto oor dié event vir Ruan in die agtergrond gehad het, so mooi tussen Francois Groepe en Chris Brink. En in Eikestadnuus se foto ook van dié event was ek in die agtergrond tussen Groepe en Brink. Dis nogal snaaks:


sy is die katarsis, selfs in die wit nag

0 comments


Toe kom Justa Niemand, hoof van AFRICAN SUN MeDIA, in die prentjie.

Net voordat Chris Brink na Helsinki toe is het hy haar genader om sy boek No Lesser Place: The taaldebat at Stellenbosch te publiseer.

Ek sou later in haar vasloop en sy sou ook verantwoordelik wees vir die boekbekendstelling aan 'n uitverkose gehoor by die Neethlingshof wynlandgoed buite Stellenbosch. Dié bekendstelling was die resultaat vir vele aspekte van die resensie.

Besoek dié webtuiste vir:
- Die PDF-weergawe van die hele boek in Engels
- Die voorwoord van Geen mindere plaatz (die Afrikaanse vertaling vir dié boek)
- 'n Foto-galery van die boekbekendstelling
- Chris Brink se A-opsie toespraak
- Chris Brink se T-opsie toespraak
- Chris Brink se E-opsie toespraak


0 comments


Dit het alles eintlik in Helsinki begin, as jy moet weet wat werklik die oorsaak is van die resensie.

Ek was ingeskryf vir 'n Somerskool-program by die Universiteit van Helsinki in Finland. Voordat ek egter vertrek het moes ek 'n afspraak kry met die rektor en visekanselier van die Universiteit van Stellenbosch. Hierdie voorreg is deel van elke hoofredakteur van Die Matie se posbeskrywing. Jy moet met die rektor ontmoet sodra jy verkies is. Prof Chris Brink was egter nie beskikbaar voor ek weg is nie.

So stuur ek 'n e-pos uit Helsinki, terwyl ek daar is, aan die rektor om dalk iets vas te maak wanneer ek terugkeer aan die begin van September. Toe hy hoor ek's in Helsinki het hy gese^ hy vertrek einde Augustus daarheen vir 'n kongres oor bi- en multitalige universiteite waartydens Brink 'n spreker sou wees.

So gebeur dit dan dat ek een oggend in die wesblok van die Universiteit van Helsinki verdwaal opsoek na die saal waar dié kongres hul afsluiting hou. Dit is bitter koud buite en teen 'n aansteekbord sien ek vir Chris Brink. 'n Artikel in die enigste Sweedse dagblad in Finland het 'n hele bladsy toegeken aan hom, alhoewel hulle sy naam regdeur verkeerd gespel het naamlik "Chris Brinks". Dit was 'n cool groot foto wat hulle van hom geplaas het langs die onherkenbare letters en leestekens en ek het later dié foto by die koerantredakteur uit Stockholm uit gekry en gebruik vir klomp artikel oor Brink(s).

Die feit dat daar 'n random artikel van ons rektor aan 'n aansteekbord gesteek is, was 'n aanduiding dat dié Afrikaan (mense sal my beskuldig as ek hom dit noem) naby moet wees. Ek was ook toe nie te ver af nie. Net om die draai was rektore van universiteite uit Kanada, Frankryk en veel verder besig om keel skoon te maak vir die laaste sessie van die 3 dae kongres. Ek het gaan sit maar benoud geraak toe ek nie ons rektor sien nie. Ek was die enigste een met sneakers in die vertrek. Chris Brink het (gelukkig) laat ingestrompel.

So probeer ek toe die rektor, die man wat in die vreemde Sweedse koerant was, voor te keer om 'n afspraak te probeer organiseer.
"Goed", se^ hy. "Kry my 19:00 by my hotel, Hotel Arthur."
Ek het natuurlik die hotel reeds geken omdat ek 2 kere van te vore 'n boodskap vir hom gelos het by die ontvangsdame wat dit heelwaarskynlik opgefrommel en geeet het.

En so het dit gebeur dat hy vir my vino rosso koop (hyself het Finse bier gedrink, wat ek nie kan maag nie) en gesels oor die ANCYL-optog (lees hieroor in die 31 Augustus 2005-uitgawe van Die Matie deur op die skakel na die koerant hiernaas te kliek), oor die jaar wat voorle^. Brink het gese^ hy verwag dat daar binnekort weer 'n vorm van opstand van die studente se kant af sal wees.

Wel, sedertdien het daar baie goed aan die US gebeur en vorme daarvan kan seker gesien word as studenteopstande, dalk was my optrede deur Breyten se resensie se plaas 'n tipe opstand?

Ons (Die Matie en die rektor) het dus op 'n goeie voet begin. Die debakel het dit nie noodwendig beinvloed nie, aangesien Chris Brink (volgens my kennis) nog glad nie kwaad was vir my nie. Al die sogenaamde woede het gekom van bestuurs- en raadslede, almal wat die rektor wil beskerm, maar dit het nooit direk van die rektor afgekom nie.

Ek het 'n afspraak met hom gereel om die lug tussen ons skoon te kry. Sal sien wat gebeur.



Die Burger het toe nooit Breyten se verskoning aan my gepubliseer nie. Het geen idee hoekom nie. Die diskoers waarin hierdie ding nou begin beweeg is die eienskap wat my die meeste prikkel. Wat se diskoers? Wel, die briefwisseling tussen my en Breyten Breytenbach. Dit laat my voel asof ek deel is van 18-44 maar nie in dieselfde opset nie. Dit is net die feit dat hy nou al 'n paar keer aan my geskryf het wat my hieroor laat dink.

Dit het my laat dink aan 'n ander "bekende" persoon met wie ek op hoerskool gereeld in kontak was: Philip de Vos.

Ek was in standerd 9 en moes 'n taak doen oor 'n fotograaf. Ek het op Philip se foto's van boekmense (o.a. van Breyten - dis waar ek hierdie foto hierbo vandaan gekry het) afgekom en besluit om 'n taak daaroor te doen. Ek het Philip een keer iewers raakgeloop en gevra vir 'n onderhoud. Ons het in Julians ontmoet en ek het met my videokamera hom afgeneem terwyl Radiohead se OK Computer in die agtergrond gespeel het (vreemd om nou daaraan te dink maar in daai tyd was die bestuurder van Julians Radiohead-befok). Lank daarna het Philip met my in kontak gehou en my aangespoor om foto's te neem, veel meer as limirieke (omdat myne nie baie goed was nie).

Gisteraand het ek by 'n vriend in Kaapstad oorgebly en word toe onverwags genooi om vanoggend na Die Burger se lesersete saam met Philip de Vos te gaan. Dit is deel van Die Burger se diverse lojaliteitsgroepies (eg. Die Burger Wynklub, - Boekklub, -Fliekklub etc). Omdat ons laat was (want die plek was on the outskirts of Durbanville, daar waar dit plaas is) het ek nie koffie gekry nie. Maar toe ek vir Philip voor in die vertrek sien en voorlees uit sy boek Vincent van Gogga het ek weer my geskiedenis met hom onthou. Natuurlik het ek nie gedink hy onthou my nie.

Maar hy het. Hy het direk na sy praatjie met my kom gesels en gevra wat ek nou doen. Toe hy my vra vir my e-pos onthou hy dat ek die hele Breyten-debakel ontketen het (dis was sy formulering daarvan) en het begin giggel. Ek het hom vertel dat ek sy foto van Breytenbach gebruik het om iets by name "'n blog" te maak oor die hele ding. Hy was fine daarmee en het gese hy sal dit interessant vind. Ook aan tafel van Willem Pretorius, 'n senior redakteur van Die Burger, wat gemaak het asof ek 'n celebrity is en dit was net weird.

So as Philip de Vos se^ ek mag, dan gaan ek voort met hierdie blog. Dalk moet ek hom vra vir 'n versie oor die hele panarie?


DB 5 Mei 2006

0 comments

Hier is die artikel wat dit alles ontlont het, wat die kont-ro-versie (let wel, nie met 'n "w" nie) begin het.


Breytenbach brief onderskep

0 comments

Dié wat die Breytenbach-debakel volg sou sien dat Breytenbach 'n persoonlike brief aan my gerig het. Dié brief het egter op 'n vreemde manier by Die Burger beland, waarop hiérdie artikel hoofsaaklik gebasseer is. Die artikel skep die indruk dat ek dit vir hulle gegee het, wat geensins die geval is nie.

Breyten het ter verduideliking 'n brief aan Die Burger gerig wat op 18/05 of 19/05 in die briewekolom sal verskyn. Kyk uit daarvoor om uit te vind hoe dié brief op Michele O'Connor se lessenaar beland het.


About me

  • I'm Appel
  • From Stellenbosch, South Africa
  • Follow me on Twitter: www.twitter.com/apduplessis
  • My profile

Archives

Links


ATOM 0.3


web page hit counter